EENHEID, EENHEID, EENHEID !

 

So klink die oorweldigende kreet van die Kerk van die 21ste eeu. Ten alle koste moet daar sigbare eenheid kom ‘sodat die wêreld kan glo.’ Op die oog af en onnadenkend beskou, lyk dit asof ons hier met ‘n groot waarheid te doen het, maar is dit die volle verhaal. Feitlik elke keer wanneer daar van hierdie ‘eenheid’ gepraat word, kom die teksgedeelte in Joh. 17:21 ter sprake. Daar lees ons dat Jesus Christus tot sy Vader gebid het "dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het." En dan weer in vers 22, " ... sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is."

Die groot kreet vandag is vir sigbare eenheid tussen kerke. In sekere gevalle is dit vir eenheid onder die verskillende dele van ‘n spesifieke denominasie en in ander gevalle weer tussen verskillende denominasies self. In die geval waar verskillende dele van dieselfde denominasie ‘een wil word’, word ooglopende praktiese oorwegings eenvoudig oorboord gegooi om hierdie mensgemaakte eenheid te bewerk. Dit gaan baie keer oor iets heel anders as oor eenheid in God en in Christus. Sosio-politieke, sosio-ekonomiese en sosio-maatskaplike kwessies (oppad na sosialisme) word voorgehou as die hoofrede waarom daar nou ten alle koste ‘n ‘sigbare eenheid’ gesnoer moet word. Liberale teoloë wat glo in ‘n sg. Kontekstuele Teologie (m.a.w. dat die konteks of verband van ‘n teksgedeelte geredelik aangepas moet word by die ‘eise van die tyd’), is dit eens dat ons samelewing nou smag en vra na ‘n eenheid tussen kerke om kwessies en probleme op te los. So word bv. Joh. 17:21 totaal uit verband geruk ‘vir ons geslag.’ Dit is so ooglopend dat kerkeenheid hoegenaamd nie is wat met die bogenoemde gedeelte bedoel word nie. Hierdie selfde teoloë sal gou heftig beswaar maak as iemand van ‘n ander kerkgroep ‘n teksvers uit verband haal, maar doen dit dan self sonder om te bloos. Hulle glo vas dat kerkeenheid die enigste ‘ware’ oplossing is vir die probleme van ons tyd. So word kerkeenheid hoër geag as God self en word dit eintlik ‘n afgod vir baie.

Jesus Christus het gebid vir ‘n geloofseenheid en ‘n geestelike eenheid tussen al sy dissipels. Hulle moes mekaar dra, vir mekaar bid, mekaar ondersteun en mekaar bemoedig. En raai wat, God die Vader het sy Seun se gebed verhoor - al 2000 jaar gelede ! Sy disspels moes dan ook een wees soos wat Christus en sy Vader een is. Hulle was nie op daardie stadium in ‘n sigbare eenheid nie. God die Vader was in die hemel en Jesus op die aarde. Dit is vandag nog ‘n probleem by baie van die groot dwalings van ons tyd. Hulle kan nie verstaan dat Jesus Christus en sy Vader een is nie en weier daarom om te erken dat Christus self God is. Selfs in daardie tyd toe Christus op aarde gewandel het, kon baie van die Fariseërs en Skrifgeleerdes nie verstaan dat Jesus en sy Vader een is nie. Hulle wou Hom juis stenig omdat Hy dit gewaag het om te sê dat Hy en God een is. Dit is die Moslems in ons dag wat in een sg, sigbare god, nl. Allah glo. God die Vader en Jesus Christus en die Heilige Gees is tot vandag toe nog nie in ‘n sigbare eenheid te vind nie. Hulle is egter verseker een. Drie-in-een.

Verder was die dissipels van die Here Jesus verseker nie almal vir die res van hulle lewens in ‘n sigbare eenheid te vind nie. Nee, hulle het elkeen op hulle eie pad gegaan en die evangelie gaan verkondig en versprei. Sommige soos Petrus het onder die Jode gewerk en andere soos spesifiek Paulus het weer onder die heidene gaan arbei. Daar was verseker nie een sigbare kerk in daardie tyd gewees nie. Dit was wel die gemeente van Christus, maar sommige het in kerke byeen gekom, andere weer in huise en andere in die geheim, a.g.v. die vervolging. Vandag wil die kerke hê dat daar een groot sigbare eenheid gevorm moet word ‘sodat die wêreld kan glo.’ Die klem lê egter baie sterk op die eenheidsbeginsel en nie op die geloofsbeginsel nie. ‘n Bloedlose evangelie word verkondig en mense word nie van hulle sondes verlos nie. Die Kerk se invloed op die samelewing word al hoe kleiner en goddeloosheid neem hand oor hand toe. Dit terwyl eenheid oral gepreek word. Die wêreld gaan beslis nie so tot geloof in Christus kom nie, want gewoonlik is dit ‘n ‘eenheid’ tussen ‘n deel van die waarheid en ‘n goeie dosis van die leuen. Lig en duisternis kan nooit een word nie.

Dit is eintlik die ou Oosterse beginsel wat hier geld. Dit behels die konsep van die yin en die yang. Lig en donker moet saamkom in ‘n eenheid. Dit is die kenteken van die Taoïsme in China en omstreke en ook ‘n bekende ‘new age’ simbool. Hulle glo dat elke goeie mens ‘n stukkie donker in sy lewe het en dat elke slegte mens ‘n stukkie goed in hom het. Dan pas hulle hierdie beginsel ook op God toe en dit is waar dit geheel en al lasterlik word. Die Woord sê baie duidelik: "God is lig, en geen duisternis is in Hom nie." (1 Joh. 1:5). Hierdie is die duiwel se idee om homself aanvaarbaar te probeer maak. Dit is geheel en al onbybels en gaan lei tot ‘n soort toring van Babel wat God weer ‘n keer tot niet gaan maak. In Op. 18 lees ons juis dat die groot godsdienstige sisteen van die laaste dae tot ‘n baie groot val gaan kom.

Dit is verder baie gevaarlik om deel te word van ‘n groot groep wat deur die wêreld aanvaar en omhels word. So bv. word die Wêreldraad van Kerke deur die wêreld aanvaar as ‘n goeie organisasie met goeie beginsels. Dieselfde beginsel geld vir die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke wat maar op sy beurt weer net ‘n lid is van eersgenoemde groep. Die wêreld omhels net hulle wat aan sy vereistes voldoen. God het gewaarsku dat wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, ‘n vyand van God word (Jak. 4:4). Jesus het ook juis gesê: "As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle." (Joh. 15:19). Haat die wêreld die ekumeniese beweging - oppad na sigbare kerkeenheid? Verseker nie! Hulle verwelkom dit met ope arms. Die ekumeniese organisasies is gelaai met politieke agendas. Dit skakel volmaak in by die nuwe wêreldorde wat hulle tans saamflans wat God haat !

In 1 Joh. 1:6,7 lees ons verder dat ons lieg as ons sê dat ons met Christus gemeenskap het (m.a.w. eenheid) en terselfdertyd wandel ons in die duisternis, "maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar." In Efes. 4:13 sien ons baie duidelik dat dit gaan oor die "eenheid van die geloof" en ook veel meer as net dit. Dit gaan verder oor die eenheid "van die kennis van die Seun van God" en dat ons tot ‘n "volwasse man" in Christus moet groei. Dit het niks te doen met ‘n sigbare eenheid tussen verskillende groepe en kerke nie.

In Gal. 3:28 sien ons dat dit nou nie meer gaan oor watter ras of stand of geslag ons is nie, maar dit gaan in die eerste plek oor die feit dat God se kinders "almal een in Christus Jesus" is. In die hemel sal ons wel almal saam wees, maar hier op aarde bly ons nie almal op dieselfde plek nie. Daarom is daar verskillende groeperinge en verskillende denominasies. Almal het ook nie dieselfde maat van waarheid nie, omdat almal nie ewe gehoorsaam is aan God nie. Om nou ‘n eenheid te probeer afforseer is uiters dwaas en die wrange vrugte daarvan gaan verseker gepluk word.

Jesus Christus het ook duidelik gesê dat Hy nie na hierdie aarde gekom het om vrede of eenheid te bring nie "maar eerder verdeeldheid." (Luk. 12:51). ‘n Paar verse verder gaan dit in hierdie gedeelte juis oor die tekens van die tye, waar Jesus vra: "maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie?" (Luk. 12:56). Hierdie verdeeldheid waarvan Hy gepraat het, is in die eerste plek tussen hulle wat in Hom glo en hulle wat Hom verwerp. Daar is egter talle mense in kerke wat ook nie in Hom glo nie, maar bloot aan Hom glo en dus ‘n gedaante van godsaligheid het. Die verdeeldheid binne kerke is dus ook reeds groot. Dit is egter verseker so dat alle ware weergebore Christene oor die wêreld heen reeds in ‘n lieflike eenheid saamgebind is. Hulle bid vir mekaar en help mekaar met sendingaksies en so meer. Hulle is verder beslis nie besig met ekumeniese pogings (vir sigbare eenheid) met die oog op een groot wêreldkerk nie. Nee, hulle is met die waarheid van God se Woord besig en ondersteun mekaar in liefde. Dit doen hulle al ken hulle mekaar skaars. Hierdie is die eenheid waarvan die Skrif praat. Die mensgemaakte en sigbare eenheid gaan egter lei tot ‘n ‘algemene Christelike Kerk’ op aarde. Dit is meer spesifiek een sigbare Katolieke Christelike Kerk. Dit gaan die saamgeperste vals kerk van die laaste tyd wees en God gaan hierdie kerk vinnig tot ‘n einde bring. God sê en waarsku ons: "Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie." (Op. 18:4).